Neutraal
‘n Staaltjie uit die Tweede Vryheidsoorlog
© J. Francois Barnard – 4 Desember 2022
© J. Francois Barnard – 4 Desember 2022
Daar was baie militêre aktiwiteite in die ou Wes-Transvaal gewees tydens die Tweede Vryheidsoorlog. Een van die Boerekommandoleiers was Kommandant Schalk Pienaar. Oom Schalk, soos die burgers hom genoem het, was ‘n godsvresende man wat nie toegelaat het dat ‘n oorlog tussen hom en sy daaglikse kampgodsdiens gekom het nie.
Elke dag het hy met skriflesing en gebed afgesluit. Sy gewoonte was dat hy die Bybel vir een van sy manne sou gee, en dan moet dié lees en bid - en hy durf nie nee sê nie!
Een dag het hulle besonders ver getrek, en het doodmoeg begin kamp opslaan. Maar toe die son sak, merk hulle dat hulle so naby aan die vyand was, dat hulle die Britse soldate se vure kon sien, en selfs hoe hulle tussen die vure loop. Hulle het geweet dat daar more vroegdag ‘n groot slag sou wees.
Soos dit goeie Christenmans betaam, het hulle na ete kampgodsdiens gehou. Oom Schalk het in die erns van die situasie self sy Hollandse Bybel gevat en gelees. Daarna het hy ernstig begin bid.
“Here, daar oorkant lê die vyand. More gaan hier ‘n groot slag wees. Gee aan U kinders die krag en die moed en die durf om die vyand te vertrap en te vernietig.” Maar hier steek hy vas en ‘n stilte volg. “Nee, Here, miskien hou hulle nou ook kampgodsdiens. Miskien vra hulle nou dieselfde van U. Ek sal U sê: Bly U neutraal.... ons sal hulle opdonder!”
Contact me





