Kat en Heksie
© J. Francois Barnard – 26 Augustus 2021
Hoe sê 'n mens koebaai vir Kat en Heksie? Die twee supermense wat sedert 1980 help vorm het aan my lewe, en aan honderde ander nes ek. Twee mense wat sagte voetspore in jou hart kom trap en dan net deernis agterlaat.
"Barnard! Kom hier!" het Kat streng gesê, sy rottang gevat en my agterstewe aan die brand geslaan omdat ek onmoontlik was in sy klas.
"Francois?" vra Heksie die volgende dag, "hoekom maak jy Mnr Le Roux so kwaad dat hy jou 'n pak slae moes gee? Weet jy hoe sleg het hy daaroor gevoel?"
"Ja, right," het ek gedink, "ek is seker hy het dit geniet om my te foeter."
Maar hy het nie. Dit weet ek vandag.
Ek weet, want sedert ek Affies verlaat het, het ek die Le Roux egpaar as mense leer ken wat hulle oud-Affie leerlinge met belangstelling gevolg het, en altyd bemoedig het. Fanie en Tertia le Roux se nalatenskap is 'n skare oudleerlinge wat aangename herrinneringe koester.
Ek het langs Fanie in die ry gestaan om kos op te skep by ons 30-jaar reünie. Agter die toonbank was 'n jong student van die Tshwane University of Technology. Fanie het hom dadelik herken en op mooi Engels 'n vriendelike en respekvolle gesprek met hom aangeknoop. Ek het besef dat sy invloed op jongmense nie opgehou het toe hy van Affies na TUT toe gegaan het nie.
Sedert ons Affies verlaat het, was Fanie en Tertia by die meeste van ons reünies gewees insluitende twee Kaapse Kelder Kuiers en twee Transvaalse Harlequins Kuiers. Dan was daar die twee geleenthede waar ek en my gesin saam met hulle by die Sun Arena na uitvoerings gaan kyk het. En daardie laaste kuier met Heksie by die De Bruyns se huis! Hoe bevoorreg was ons net nie? Ons kon skouerskuur met mense wat uitverkoop was aan die ideë om jongmense op te bou, te kon lei, en dan vriende met hulle te maak.
En dit is wat Fanie ons in sy toespraak by die eerste Kaapse Kelder Kuier genoem het: Hulle vriende. En dit was nie net woorde nie. Dit het in hulle dade ook uitgekom. Terwyl sy self gebuk gegaan het onder verskeie laste van 'n liggaam wat nie wou saamwerk nie, het Tertia altyd gereed gestaan met bemoedigende woorde vir ieder en elk. Sy wou weet hoe dit met almal gaan. Sy het saamgehuil met die wat deur 'n egskeiding gaan, en saamgelag met die wat die vreugde van kleinkinders ervaar.
By die Sun Arena het Tertia die steil trappe gekyk waarteen ons moes uitklim. "Ek moes vanaand my besem saamgebring het!" het sy gesê. Soms het sy my "Oups" genoem, en ander kere "Wyse ou Gryse," en ek gaan ons WhatsApp geselsies nou mis.
Fanie en Tertia, ek gun julle die vrede wat alle verstand te bowe gaan. Ek gun julle die rus en die verlossing van hierdie aardse tentwoning. Ek gun julle God se Teenwoordigheid.
Maar ek gaan julle so mis!

Ons laaste Afrikaanse Taalleerles op 26 Augustus 2017