Opstaantyd
Die Greylings van Standerton
© J. Francois Barnard – 11 Februarie 2014
Die jaar 1904 het die Afrikaner vuisvoos en platgeslaan bevind. Maar die geskiedenis leer ons dat hy weer vining opgestaan het. Alhoewel die vredesverdrag op papier geteken was, het die vrede in die kop egter nie so gou gekom nie. ‘n Paar staaltjies uit my eie familiegeskiedenis skilder vir ons prentjies uit daardie tyd.
My Oupa Kootjie Greyling was so vier jaar oud toe die Oorlog in 1899 uitgebreek het. Ek weet nie of sy pa, Michiel Daniel, ook ‘n krygsgevangene was nie. Maar Oupa Kootjie en sy ma, broers en susters was almal in Standerton se Konsentrasiekamp.
Hier na die oorlog het hulle ‘n behoefte aan ‘n melkkoei gehad, en dié het hulle per trein “ingevoer” van die Kolonie af.
Ek wonder partymaal hoe hulle hierdie transaksies gedoen het? Hoe het die verkoper in die Kolonie geweet dat ‘n Transvaalse gesin ‘n koei nodig gehad het? Daar was nie telefone op die plase nie. Die Landbouweekblad het seker nog nie eers bestaan nie.
Omdat hulle meubels ook alles in die slag gebly het nadat die huis verbrand was, moes hulle meubels ook kry. ‘n Buurman was ‘n goeie skrynwerker, en ‘n ruiltransaksie was aangegaan. Wat hulle in ruil gegee het, weet ons vandag nie, maar hulle het ‘n eikehout riempiesmatbank daarvoor gekry.
Oupa Kootjie was toe al seker so agt jaar oud, en hy en sy jonger broer Izak het die opdrag gekry om by die buurman die riempiesmatbank te gaan haal. Hulle het gestap, die bank gekry en begin terugdra plaas toe.
Maar langs die pad het eers gerus. “Rus” vir twee klein seuntjies het beteken dat hulle met dolosse “plaas-plaas” gespeel het. Dat ‘n Hoëveldse storm aan die opsteek was, het hulle nie eers agtergekom nie.
‘n Sterk wind het die splinternuwe eikehout bank omgewaai en oor die veld gerol soos ‘n bossie. Van die middelste poot het net spaanders oorgebly. Terug by die huis moes hulle verduidelik hoekom die bank stukkend was.
Sowat twaalf na vyftien jaar later het die twee broers saam begin boer, en die riempiesmatbank het saam met hulle getrek. Dit was sterk genoeg vir volwassenes om op die kante van die bank te sit, maar slegs ‘n kind kon in die middel sit.
Later jare, na my ma se geboorte, het die oujongkêrel Izak altyd op die kant gesit en sy pyp gestop. Oupa Kootjie het op die ander end gesit, en my ma was die gelukkige wenner van die middelste sitplek.
Die riempiesmatbank het het na Oupa Kootjie se dood by my ma geëindig. My broer Adam het ongeveer 90 jaar nadat dit gebreek het, die bank ‘n nuwe middelste poot gegee met ‘n sterk stuk kiaat. Vir 'n ruk het dit in my huis gestaan, en ek het gemerk dat een van die agterste houte gebreek was. Ek moes dit regmaak voordat die skade groter word. Ek het 'n strook van 25mm breed en seker 300m lank se hout uitgesny - 6mm diep. 'n Plat yster vul die gat en dit is met drie skroewe stewig vasgeskroef. Daar sal hy nie weer breek nie.
Vandag behoort dit aan ons neef Koos, Oupa Kootjie se naamgenoot, en staan in sy huis in Fraaiuitsig naby Mosselbaai.
Contact me





