Osbraai op Affies
© J. Francois Barnard – 12 Januarie 2023
In 1980 was Affies 60 jaar oud en dit was tyd vir ‘n osbraai. Mnr Marais, oftewel Perd, was betrokke by baie van die reëlings. Hy moes onder andere blikke bymekaarmaak waarin die kaartjies wat mense gekoop het ingegooi kon word. Hy moes dus ‘n gleuf in die deksels sny en dan die blik toe soldeer.
Een van die seuns het tussen periodes gou met ‘n Frisco-blik daar aangekom met ‘n plastiekdeksel en dit op Mnr Marais se tafel gelos by talle ander blikke. Toe ons periode begin, het hy in die klas ingekom en die blik met die plastiekdeksel opgetel.
“Wie van julle het dit gebring?” wou hy weet.
Niemand kon sê nie want die blik was reeds daar toe ons ingestap het.
“Nou hoe moet ek ‘n plastiekdeksel soldeer?” vra hy vir enige iemand wat wou hoor en gooi die nuttelose gedoente in die asblik.
“Meneer moet nou nie ‘n gegewe perd in die bek kyk nie,” laat Chris Burger hoor.
Mnr Marais kyk verras op om te sien wie so windgat met hom kon wees.
“Weet jy hoe so ‘n perd kan skop?”
Ons het almal gelag en hy het die onderwerp verander.
“Manne, die osbraai is oppad, en ek vra nou maar vir elke klas of julle by jul ouers kan hoor wie kans sien om ‘n bees te skenk vir die geleentheid.” Dit was vir ‘n goeie saak, en ek het gesê dat ek my pa sal vra. Ons het in daardie tyd van beesboerdery na wildboerdery toe oorgeskakel, en dalk sou my pa ‘n bees kon gee.
Daardie naweek het ek my pa gevra of hy ‘n bees sou kon skenk, en hy het ingestem, maar ons beide het gou daarvan vergeet omdat daar so baie te doen was op die plaas. Die osbraai het gekom en gegaan, en daar was genoeg beesvleis gewees om te braai. Derek Brink se pa het twee beeste gegee, en Mnr Marais het my nooit weer daaroor uitgevra nie.
Maar my pa het onthou.
“Wat het geword van die bees wat ek vir die skool moes gee?” wou hy weet.
“Ek het vir die skool gesê die bees het weer gesond geword!” het ek gegrap en toe verduidelik wat gebeur het. My pa het jare daarna nog hierdie storie as die waarheid oorvertel.