Sies, Lewies!
© J. Francois Barnard – 30 September 2025
Ek dink ek het agter die kap van die byl gekom van hoekom Lewies Hameltoontjie nie vandag meer die toonaangewende renjaer in F1 is nie. Ek het eers gedink dis ouderdom en stadiger reflekse, maar dit blyk dat hy allerhande gelowe hou wat hom beïnvloed.
Vir 'n geruime tyd eet hy nie vleis nie. Diere het regte, en 'n vegan lewenstyl maak dat minder mense wreed is teenoor diere. En, sê hy, dis gesonder. Hy voel beter en sy energievlakke is hoër. Derdens is daar die omgewingsimpak: Beesmis stuur te veel CO2 die wêreld in. "Verban koeie!" sê Lewies.
Die ergste geloof wat hy nou aanhang is dat te veel water sleg is vir sy soel velletjie. Hy het tot die dames in sy lewe probeer beïnvloed om ook, soos hy, minder te bad om die velletjie te beskerm. Nou, ons almal weet dat Britte nogal bang is vir water. Kom ons sê: Britte is minder entosiasties om skoon te kom. Gaan bly op 'n eiland en jy sal seker ook so dink - maar die dames het almal na 'n "Sies, Lewies!" begin wegdraf.
Nou is die man alleen. Tot sy bulhond, Roscoe, kon nie meer die stank verdra nie, en toe vrek hy.
Nou weet ek hoekom hy nie meer die toonaangewende renjaer is nie: Niemand wil meer agter hom ry nie, want jy kan nie 'n F1 renmotor beheer as jou een hand jou neus moet toedruk nie.
Contact me





