Sonde met die Honde - Face
© J. Francois Barnard – Maart 2014
Hier in 2003 of 2004 het Elsie Geselsie my voorgekeer by die Kolonnade Sentrum. Vir 'n geselsie natuurlik. "Jy wil nie dalk 'n Jack Russell reuntjie hê nie?" Ek moes nee gesê het, maar het aan my seun gedink, en Face het by ons ingetrek.
Face was regtig 'n pragtige dier, maar hy het 'n ewige wanderlust aan hom gehad. Die heel eerste verandering wat sy teenwoordigheid op my afgedwing het, was hom ons heining aan te pas dat hy nie kon deurglip nie. Ons het ekstra staal ingesweis, maar dit het hom nie gekeer nie. Elke nou en dan was hy uit, en dan bel mense ons sowat vyf kilometer verder. "Jou hond is hier by my!" Ek moes hom oral oor Montanapark gaan haal het, en het begin dik raak vir die storie.
En hy het net vir my geluister. Liewe Sannie en Simeon was heeltemal te laag af in die pakdier se pecking order, en hy het hom nie aan hulle gesteur nie. Dit het Liewe Sannie eendag 'n halfuur gevat om hom terug te kry in die erf in. Sy moes daarna weer gaan bad en skoon aantrek. Groot fout. Jy maak nie Liewe Sannie moerig nie. Face was besig om sy eie doodskis toe te spyker.
Die fout wat ek gemaak het, was om hom plaas toe te vat. Hy was in sy element. Ek het besef dat hierdie hond nie weer in die stad sou aanpas nie.
Dit was toe so.
Eendag het 'n pretdraf se roete weer by ons huis verbygegaan, en Face kon homself nie help nie. Teen die tyd was hy al gespierd gewees van al sy hardloop ekskursies, en die pretdraf het net te lekker gelyk. Hy het met sy meer gespierde lyf dit al hoe moeiliker gevind om deur die heining te kom, maar na 'n gestoei hy was deur.
Drie ure later bel 'n vreemde vrou my. "Ek het jou hond hier aan sy halsband beetgekry om jou nommer van die skyfie af te lees. Maar toe trek hy sy kop uit die band uit en hol weg!"
Ek was nie verbaas nie. Ek het geweet dat dit die laaste sien van hom was. Al wat ek kon doen was om die foon neer te sit. Elsie het my weer raakgeloop en ek moes haar vertel van Face. Sy wou nie meer met my gesels nie.