Sonde met die Honde - Ruben & Benjamin
© J. Francois Barnard – 31 Maart 2014
Nou jy sal dit nie glo nie, maar ek was weer so dom gewees. 'n Donkie stamp nie sy kop tweemaal teen dieselfde klip nie, lui die spreekwoord. Ek is seker dommer as 'n donkie.
Ruben en Benjamin was twee Jack Russell boeties wat in 2005 by ons kom bly het. Net soos Face het hulle ook so mooi gespierd geword. Net soos Tienka het hulle alles in hulle vermoë gedoen om die tuin te verwoes. Gelukkig was die tuin darem nou meer gevestig gewees. Maar dit was 'n rowwe tyd by ons gewees.
Ons het Oorlede Pa net die vorige jaar begrawe. Skielik moes ek van Pretoria af 'n Messina-boerdery aan die gang hou, en derhalwe my rekenaarbesigheid sluit. Ons was ook toe besig om ons houthuis in Montanapark te sloop om 'n nuwe een te bou. Die twee klein hondjies het die huis waar ons tydelik geplak het se besproeing eerste opgekou, en daarna die mense se "Welkom" matjie verorber. Meer gepaste name vir die twee brakkies sou dalk "Alfa Gearbox" en "Molato" gewees het.
Die bouer van ons nuwe huis het vir Ruben gevat, en Benjamin het ek op die plaas op Messina gelos. So lief as wat ek vir die honde was het ek my voorgeneem om nie weer my hart oor hulle te breek nie.
'n Man kan ook net soveel vat... daarom het ek nou ‘n gemmerkat!
Contact me





