Sonde met die Honde - Jossie
© J. Francois Barnard – Maart 2014
Nadat ek van Twak-brak ontslae geraak het – sien The Sad Case of Twak – moes ek dringend weer ‘n hond aanskaf. Die rede: Ons het in Montanapark gewoon wat in die 1990’s ‘n brandpunt van kriminele aktiwiteite was.
My noodroep het alle kante toe uitgegaan, en Hennie en Essie het eerste geantwoord en met Jossie daar aangekom.
Jossie was ‘n opregte hond. Beide sy pa en ma was honde. Maar die bloed was nie so suiwer nie. In hom was daar iets van 'n Doberman, 'n Alsatian en 'n Fox Terrier. Ja, 'n opregte Pavement Special - maar 'n plesier om op die werf aan te hou.
Jossie kon duiwe en selfs indiese mynas vang. Hy het 'n uniek tegniek ontwikkel wat hom daartoe in staat gestel het. Sy fyn gehoor het die voëlgeluide in die agterplaas opgetel. Hy het dan met 'n vaart voor by die hek weggespring 25 meter verder sy topspoed bereik by die hoek van die huis. Sy suspensie was op daardie stadium gesak gewees soos 'n 1967 DS19 Citroën s'n. Sodra die plat gevaarte om die hoek gekom het, het die voëls probeer opgevlieg. Maar dan het Jossie so 'n hupsprongetjie gemaak, en die ongelukkige wenner uit die lug uit beetgekry. Die duiwe was redelik stadig, en hy kon hulle so op 'n driekwart meter in sy bek vang. Die mynas was moeiliker. Vir hulle moes hy tot omtrent 1.2m hoog spring.
Terug op die grond aangekom het hy die voël heen en weer geskud dat die vere gewaai het, en dan het hy die voël-kadawer voor hom op die grond neergesit. Met 'n tong wat skeef uit sy bek gehang het, het hy gelukkig en tevrede vir my gelag. Sy hondegesig het duidelik gesê: "Ek is goed, nê?"
Ek het dan sy vangste in 'n plastieksak gegooi en in die asblik gaan deponeer. Ek het soms gewonder wat die vuilishoop aas-wesens vir mekaar gesê het as hulle Jossie se vangste week na week in 'n sakkie gekry het?
Een so vangs kon ek nie in 'n gewone sakkie inkry nie.
Die lawaai van die voëls in die agterplaas het ek ook gehoor toe Jossie op 'n dag weer by die hek weggespring het. Maar dit was hadedas, en ek sê vir myself: "Vandag kry jy op jou moer, Jossie!" Toe ek om die hoek kom kon ek skaars glo wat ek sien.
Jossie se gesig het weer vir my gelag, en hy was duidelik trots op sy vangs. Maar hierdie een het hy nie neergesit nie. Deur sy bek het die slap nek van 'n hadeda gehang – morsdood.
Jare later het ek vir Jossie weer daar in die agterplaas gekry. Die hondesalon se bakkie het voor by die hek gestop. Jossie was dol oor sy weeklikse bad, en het gewoonlik self daar vir hulle gewag. Maar hierdie dag was anders. Dit was vreemd vir my. Hoekom sou hy op sy sy lê en slaap in die koelte, en dit nogal in die winter?
Jossie was dood.
Hy het vroegoggend buite toe gegaan toe ons die hek oopgemaak het vir die bediende. Voor ons heining was die braaksel van 'n ander hond, en hy het dit geëet. Ons het later gehoor dat die ander hond deur inbrekers vergiftig was, maar dié was 'n baie groter dier en het dit oorleef. Jossie nie. Die hondesalon-tannie het weggery en al die pad gehuil oor hom.