Die Doring in die Vlees
© J. Francois Barnard - 2 Julie 2024
Ek het jare lank 'n oplossing gesoek vir my Doring in die Vlees: Jig. Dit het gemaak dat ek lemoen, biltong, droëwors en sulke lekker winterkosse nie kan eet nie. Die gewone kroniese medikasie van die dokters werk ook nie vir hierdie lyf nie. In plaas daarvan dat dit die doring uittrek, druk dit hom dieper in en gee hom 'n draai vir dramatiese effek.
Maar toe ontdek ek 'n handvol bymiddels om by die gewone 15W40 olie te gooi sodat die gewrigte weer reg kan werk: 'n Vitamine D3 gevolg deur K2 wat help om D3 te absorbeer. Voeg by Magnesium Glycinyte en sit die kersie op die cocktail met 'n Boswelia kapsule, en siedaar! Oom Fransie eet weer biltong en droëwors, maar vir veiligheid vermy ek nog steeds die lemoene - oftewel die Lamoen soos wat ons huis se binnegrappie dit noem.
En alles het vir maande lank 100% reg gewerk. Tot vanoggend toe.
Met wakkerword het die Doring in die Vlees my aandag gehad. Ek het dadelik die fout gaan soek by gister se menu. Eerste was dit koffie en beskuit, gevolg deur twee cuppachinos in 'n vergadering, afgerond met 'n hoender en noedelslaai in die aand. Geen verbode vrugte nie, maar tog word ek wakker met ou Jig wat weer op sy gemakstoel sit in my regterenkel.
Die Doring in die Vlees het my net kom herrinner dat ek mens is en kwesbaar daarby. Ek mag nie onverskillig staan teenoor my lyf nie. Ek moet mooi luister as hy fluister en versigtig te werk gaan om nie enige balanse te versteur nie. Drink baie water, stap gereeld, en meer belangrik - lag gereeld. As jy nie lag nie trek jou lyf ampere wat sy battery nie voor gelaai is nie.
Sodoende word die Doring in die Vlees weer 'n Dons in die Vlees!
Contact me





