Gee Marthinus Johannes 'n Bells!
© J. Francois Barnard - 4 Junie 2024
Dis 'n snikhete Sondag in November, en Marthinus Johannes sit weer saam met sy ma in die kerk. Sy pa staan daar op die kansel en preek, en hy is kwaad. Hy raas met die mense omdat hulle in hierdie spesiale tyd voor Kersfees so sondig lewe. "Die euwel van drankmisbruik!" sê sy pa met 'n bulderende stem.
As sy pa so praat, swaai Marthinus se beentjies nie heen-en-weer nie. Sy ma laat sak ook haar kop, want haar man se kneukels is wit soos hy die kansel vashou. Marthinus dink liewer aan lekkerder goed, soos die kersboom by Fanie se huis.
Net verlede week het hy by Fanie gaan speel en hulle het sy ma gehelp om kleurvolle versierings en klokkies aan die kersboom te hang. Heel bo was 'n wit engeltjie wat sy saam met 'n klomp liggies aan die boom gehang het. Sy het die skakelaar aangesit, en Marthinus Johannes het oopmond in verwondering na die pragtige boom gestaar. In sy lewe het hy nog nooit in een kamer soveel mooi bymekaar gesien nie!
Sy ma het geskakel om te sê sy gaan 'n bietjie laat wees, en Marthinus Johannes en Fanie het voor die televisie gaan sit. In die pastorie was daar nie 'n televisie nie want sy pa gesê jy kan mos nie die duiwel in die pastorie toelaat nie! Eendag het hy sy pa uitgevra oor die televisie-antenna wat op die bure se dak gemonteer was, en sy pa het dit een kyk gegee en gesê dit was die duiwel se stert wat bo dak uitsteek.
Marthinus Johannes se ma het die voordeurklokkie gelui, maar die seuns het dit nie gehoor nie. Die deuntjie van Jingle Bells met klokkies wat lui en 'n slee met takbokke in die sneeu het al hulle aandag geverg. Toe Fanie se ma hom roep, staan Marthinus Johannes traag op. Sy ma moes by die deur wag terwyl Bells Whisky se advertensie klaarmaak.
"Bells Brandewyn!" bulder sy pa van die kansel af, en die gemeente snak na hulle asems. Almal weet dis whisky, maar hulle durf niks vir hulle kwaai predikant sê nie. Marthinus Johannes kyk rond. Sy ma hou haar hand oor haar mond, maar haar oë sê sy wil lag. In die diakenbank sien Marthinus Johannes hoe Fanie se pa se skouers skud soos hy sy lag onderdruk.
Almal lag vir sy pa. Tot sy ma! Verontwaardig spring hy op om sy pa te help. "Nee, Pa! Dis nie brandewyn nie, dis whisky!"
En dis nou net daar waar die gemeente dit verloor en skater van die lag. Marthinus Johannes weet nie wat so snaaks is nie. Eers was sy pa se gesig rooi, en toe skud hy sy kop en lag maar saam.
"Dankie, Marthinus Johannes," sê sy pa en land sy preek in 'n rekordtyd.
Daardie middag gons die telefone, en die manne klink almal 'n glasie op hulle held. "Gee Marthinus Johannes 'n Bells!"
- - -
Vir meer oor Marthinus Johannes, kliek hier.