My native language is Afrikaans. One of the youngest and most modern languages in the world! On May 8, 2025, Afrikaans will celebrate its 100th year of being an officially recognised language in South Africa. But its history dates back to 1671 when the Dutch recorded that the language spoken in their Cape Colony no longer resembled the language they spoke at home.

When I started this blog, I translated many of my articles into English. But some are bound to the idiom used in Afrikaans, and without this idiomatic context, the reader cannot understand what I mean. For instance, I cannot translate "En ekke vir jou" into English. The direct translation would be: "And I for you", which makes no sense. (The protagonist actually meant: "And I love you too!")

Dutch readers, however, should be able to follow most of the text. If you did, share it with your friends on Facebook or contact me. It is always lovely to get some feedback.

Die Glimlagvervaardigers

© J. Francois Barnard – 23 Oktober 2024

Maak jou oë toe en dink aan jou kinders toe hulle tussen nul en vyf jaar oud was. Sien in jou geestesoog die gesiggies en lyfies, en hoor weer die klokhelder stemmetjies. Sonder dat jy dit agterkom, verskyn daar 'n glimlag op jou gesig terwyl jy kosbare herinneringe koester.

Vandag is my seun en dogter volwassenes – onderskeidelik 27 en 37 jaar oud – en hulle vorm steeds 'n integrale deel van ons lewens. Dit beteken dat ons gereeld interaksie het en op hoogte bly van wat in mekaar se lewens gebeur.

GlimlagEen van die groot aanwinste in ons familie is my skoonseun wat ‘n bietjie meer as ‘n dekade gelede sy opwagting gemaak het. Hy is 'n soliede anker in sy gesin, met sy stil geaardheid, goeie humorsin, en die erns en integriteit waarmee hy sy werk aanpak. Hy is betrokke by sy twee seuns, en ek verstaan hoekom hy hulle held is.

Op 27-jarige ouderdom woon my seun nog steeds in ons huis, en hoekom nie? Ná sy studies het hy 'n goeie werk gekry, en hy werk meestal van die huis af. Hy baseer sy lewe op die Woord, en sy daaglikse roetine sluit die gimnasium, werk, kerk, selgroep en af en toe 'n kuier by 'n vriend in. Wanneer sy "mensmeter" te vol raak, kry jy hom waar hy alleen agter sy rekenaar sit of langs sy bed met 'n Bybel op sy skoot.

Sedert Augustus 2022 woon my skoonseun, dogter en twee kleinseuns in Bristol, Engeland. Die aankondiging dat hulle van Suid-Afrika na Engeland sou verhuis, het my nie onkant gevang nie. My dogter het ná skool vir 'n jaar noord van Londen, in Oakham, gaan werk. Met haar terugkeer het sy op die lughawe vir my gesê: "Pa, ek is hier om te studeer, maar ek gaan terug." Min het ons daardie tyd geweet dat dit eers 15 jaar later sou wees, en dat sy 'n man en twee seuns saam met haar sou neem.

Ek het lankal besluit om my kinders in hulle besluite te ondersteun. Ek vertrou die Here dat Hy vir hulle en vir ons gou sal wys as 'n besluit verkeerd was. Was daar al verkeerde besluite? Miskien, maar omdat ons dit gou regstel en aanbeweeg, onthou ek nie meer altyd die besonderhede nie.

As ouers het ons my skoonseun en dogter ten volle ondersteun in hulle besluit om na Engeland te trek, al het ons harte geskeur by die gedagte dat hulle Sondag-kuiers nou verby is. Ja, ons het trane gestort toe ons hulle gegroet het, maar ons het dadelik begin beplan om Engeland toe te gaan vir 'n kuier.

Die besoek kos natuurlik duur en verg baie beplanning, maar dit bring ook baie opwinding mee. Ek, my vrou en seun het aan die einde van Julie 2023 na Londen gevlieg en vandaar met 'n bus na Bristol gereis. Dit was 'n onvergeetlike ervaring en ons het die meeste daarvan gemaak. Dit was vir ons en vir hulle so goed dat ons konteks kon kry van hulle nuwe lewens in Bristol. Nou, wanneer ons hulle via video-oproepe kontak, verstaan ons soveel beter hoe hulle daar leef.

Die aanpassing in 'n nuwe huis, nuwe skole en 'n nuwe werk vir my skoonseun was glad nie maklik nie. Hulle moes 'n huis van 400m² verruil vir een van 68m². Die meeste van hulle huisraad het in die slag gebly, en hulle moes vyf jaar se mediese dekking vooruit betaal om Britse visums te bekom.

'n Ligpunt was dat my skoonseun se broer en sy gesin reeds in Bristol gewoon het, en dat hulle ouers kort ná hulle ook daarheen getrek het.
"Jy het darem jou skoonfamilie daar," het ek my dogter probeer bemoedig.
"Ja, Pa, en ek is dankbaar daarvoor, maar ek mis my eie mense ook."

 

Hoe hanteer ons as ouers hierdie situasie? Baie ouers verwyt hulle kinders wanneer hulle trek, en uiter kwetsende woorde soos: "Julle gooi ons weg," of "Julle vervreem ons kleinkinders van ons." Alhoewel ek die pyn verstaan wat mense moet verwerk dink ek nie dat verwyte nog nooit enige situasie verbeter het nie.

Ons het besluit om ons kinders eerder te ondersteun as om hulle te verwyt, al is ons soms hartseer en ongemaklik met die situasie. Die lewe daar is moeilik genoeg; ek wil nie my eie verdriet op hulle plaas nie. Dit sou selfsugtig wees. Ek wil hê my kinders en kleinkinders moet uitsien daarna wanneer Oupa en Ouma kom kuier. Daarom is dit vir ons belangriker om ons verhouding te koester en op te pas.

Ons is vandag geseënd om toegang te hê tot tegnologie soos WhatsApp en Zoom waarmee ons kan gesels. Met Kersfees of verjaarsdae kan ons geskenke via Amazon bestel en laat aflewer. Dit sal nooit persoonlike kontak kan vervang nie, maar dit is veel beter as wat ouers dertig of veertig jaar gelede gehad het.

 

Tans is dit somer in Suid-Afrika, en wanneer Oupa Francois sy swembad skoonmaak, verlang hy na die dae toe kinders en kleinkinders daarin baljaar het. Terwyl die swembadpomp loop, sit Oupa op sy stoep en kyk na foto's van al die swembadpret. Die glimlag keer dan terug, want die Glimlagvervaardigers gaan volgende jaar weer 'n besoek van Oupa en Ouma af kry. Ons kleinseuns gaan groter wees en met nuwe geite – slimgeite en oulikgeite – na vore kom.

Ons is so geseënd en het baie om na uit te sien!