Die Poetsvrou van Arnhem
© J. Francois Barnard – 16 Junie 2025
Hemert Houben van Arnhem, Nederland, is my oorlede skoonpa se laatlam suster en die enigste een wat nog oor is van daardie gesin. Sy het gedurende die laaste vier dekades telke male Suid Afrika besoek, en ek het hierdie kuiers altyd terdeë geniet.
Tans is sy weer hier, maar helaas, die kuierplekke raak minder met elke besoek. Sommige vriende en familie val weg, of is nie gesond genoeg om te kuier nie. Maar dit kry haar nie onder nie. Dan kuier sy eenvoudig net meer met die wat oor is!
Sy het in die laat 1980s Suid Afrika verlaat met haar twee seuns en ‘n klomp tasse. Die oudste was ‘n kleuter en die jongste nog in die doeke. Sy moes die tog alleen aanpak, want haar man het vooruit Nederland toe gegaan. Hy was hier weg en het nooit weer teruggekeer nie. Hulle is later geskei, en sy moes onder uiters moeilike omstandighede alleen haar twee seuns in Arnhem grootmaak.
Vir vyftien jaar lank het Hemert by ‘n spesiale skool gewerk, en daarvoor kry sy vandag nog ‘n klein pensioen. Daar is ander toelaes ook, maar om haar inkomste aan te vul, het sy besluit om ‘n poetsvrou te word. Sy het vinnig ‘n paar kliente gekry en hou hulle huise op en top skoon. Haar kliente is dol oor haar, en betaal haar goed. Hulle gee soms ekstra geld of geskenke, want sy is meer as net ‘n poetsvrou. Saam met Hemert stap daar vreugde, vrede, en humor die vertrek in.
Met een van haar vroeëre kuiers in Suid Afrika het sy ons so flou gekuier dat ons besluit het om haar eenvoudig besig te hou. Ons het haar ‘n lappie in die hand gestop, en dit was nie lank nie, en die skilderye en portrette se rame was skoon afgevee, die ligskakelaars was blinkskoon, en as ons nie gekeer het nie, was die toilette ook gepoets.
Sy vertel dat haar seuns aangebied het om haar poetsloon met ‘n toelaag te vervang - toe sê sy vir hulle: “Dan kunnen jullie me gewoon laten cremeren, want ik ga dood als ik niet kan werken. En dan kom ik bij jullie spoken!”
Suid Afrika is natuurlik ‘n lekker plek vir Europeërs om te besoek, want hulle kan elke prys deur twintig deel om te sien wat hulle in Euros sou betaal. En Hemert geniet dit so om inkopies hier te doen dat ons moet keer dat sy nie Suid Afrika leegkoop nie.
“Hier ben ik een miljonair!” sê sy en laai nog goed in die trollie. Dan loop sy in die gang af en kies sommer goed wat sy vir jou wil koop. Jy protesteer, maar sy druk deur. “Dat kost geen drol!” en nog iets land in die trollie.
“Hemert, jy moet nou ophou koop!”
“Ik ben vierenzeventig jaar oud en ik doe wat ik wil!”
Dan skaterlag sy en alle teëstand verkrummel.
Hemert hou van lag, en ons het al baie grappies uitgeruil. Ons hoor al die snaakse stories uit haar kinderdae, en ook die sêgoed wat haar kleinkinders mee vorendag kom. Maar partymaal is daar ook die lag met ‘n traan.
Ek sal nooit vergeet toe ons in 2013 haar teruggeneem het lughawe toe nie. Sy en my skoonpa het mekaar gegroet, en beide het begin huil. Ek het geweet hulle groet nou vir die laaste keer, en kon sien hulle weet dit ook. Hy is die volgende jaar op 14 Julie oorlede.
Met elke besoek aan Suid Afrika verras Hemert my met haar vreugde en sprankel. Die Poetsvrou van Arnhem sal altyd welkom wees in ons huis.