My native language is Afrikaans. One of the youngest and most modern languages in the world! On May 8, 2025, Afrikaans will celebrate its 100th year of being an officially recognised language in South Africa. But its history dates back to 1671 when the Dutch recorded that the language spoken in their Cape Colony no longer resembled the language they spoke at home.

When I started this blog, I translated many of my articles into English. But some are bound to the idiom used in Afrikaans, and without this idiomatic context, the reader cannot understand what I mean. For instance, I cannot translate "En ekke vir jou" into English. The direct translation would be: "And I for you", which makes no sense. (The protagonist actually meant: "And I love you too!")

Dutch readers, however, should be able to follow most of the text. If you did, share it with your friends on Facebook or contact me. It is always lovely to get some feedback.

Die Sprinkaanbeampte van Kemptonpark

© J. Francois Barnard - 25 November 2023

Gesiene mense, my mens, die eerste burger en sy gade van Kemptonpark. Hy die skoolhoof van Laerskool Kreft, voorsitter van die plaaslike rugbyklub, dorpraadslid vir etlike jare, en sy, die stigterslid van Aksie Morele Standaarde, en bewaarder van etiek en goeie waardes, soos om tee uit fyn porselein te drink, en die bure as meneer en mevrou aan te spreek.

Later jare, hoog in haar tagtigs en bedlêend, het sy my van ‘n insident vertel toe hulle van Kemptonpark na Johannesburg moes gaan vir ‘n amptelike afspraak. Die burgemeester moes na die afspraak gou sy hare laat sny, en hulle het in ‘n barbiersalon gaan sit.

adam barnardMevrou Burgemeester het rondgekyk en alles in die salon ingeneem. Klante het op rooi, leerbedekte stoele gesit terwyl die barbiers geselsies met elkeen aanknoop. Sy kon elke man se gesig in die groot spieëls sien, asook die interaksie tussen klant en barbier. Almal het gemoedelik gesels, en party gesprekke was selfs interessant.

Toe dit die burgemeester se beurt was, het hy gaan plaasneem terwyl die barbier sy klere met ‘n vars skouermantel bedek. “Wat kan ons vandag vir Meneer doen?” vra die barbier.

Die amper kaalkop burgemeester vra kliphard: “Gee jy afslag vir kaalkoppe soos ek?” Almal in die salon bars uit van die lag en kyk na die nuweling in die rooi stoel. Mevrou Burgemeester bloos bloedrooi en laat sak haar kop. As haar man eers so begin gaan hy sekerlik hulle vandag in die skande steek!

Die barbier begin sny en soos altyd knoop hy ‘n geselsie aan.

“Watter soort werk doen Meneer?”

Mevrou Burgemeester wag om te hoor wat haar man gaan sê. Hy het baie opsies: onderwyser, skoolhoof, dorpraadslid, burgemeester, en hulle plasie op Rustenburg sal selfs boer akkuraat maak.

“Ek is ‘n sprinkaanbeampte!”

Haar kop ruk regop en sy gluur hom aan. Leuenaar! Hoe kan hy so iets sê? Sy voel hoe die bloed in haar nek opstoot. Sy weet nie of dit van skaamte of woede is nie.

Een van die ander klante vra: “Nou wat doen ‘n sprinkaanbeampte?”

Inspirasie het gekom van Jochem van Bruggen se 1933 novelle, Die Sprinkaanbeampte van Sluis, en die burgemeester begin in die fynste besonderhede te vertel van hoe die staat die sprinkaangif per spoorvervoer versprei na polisiestasies in die areas wat deur sprinkaanplae geteister word. Hy vertel van hoe hy die samewerking van die plaaslike boeregemeenskappe moet kry.

Barbiers en klante hang aan sy lippe. Almal se hare is al lankal klaar gesny, maar die barbiers beweeg nog om en om en knip-knip in die lug al om die klante se koppe.

Die burgemeester haal selfs vir Van Bruggen aan: “'n Boer se arbeid is net soos dié van 'n miskruier; hiet vir hiet moet hy weer van onder af beginne met sy bol; en wanneer hy bo uit is, stoot hy net 'n entjie makliker.”

engela barnardMevrou Burgemeester weet nie waar om haar kop in te steek nie. Hulle is dan kerkmense!

Nog meer besonderhede volg van hoe die oumense voor die gebruik van gif vroegoggend stompe agter perde gesleep het om voetganger sprinkane te vermorsel, maar die moderne sprinkaanbeampte van vandag gebruik gif. Jy kan die stryd teen sprinkane vergelyk met ‘n militêre operasie, sê hy, en al die mans in die salon knik hulle koppe. Die Tweede Wêreldoorlog was nog vars in hulle geheue.

 

Oppad terug Kemptonpark toe vra sy: “Van wanneer af is jy so ‘n blatante leuenaar?”

Die Sprinkaanbeampte van Kemptonpark het uit sy maag gelag. “Jy kan nie stry nie. Dit was ‘n goeie storie!”

 

Ek het met deernis na my ouma gekyk. Wat jare gelede ‘n groot verleentheid was, was daardie dag ‘n aangename herrinnering aan haar man wat in 1966 afgesterf het. Nie lank daarna nie, het sy haar gaan aansluit by hom in ‘n hemel waar geen sprinkane die oeste kan verwoes nie.