My native language is Afrikaans. The youngest and most modern language in the world! When I started this blog, I translated many of my articles into English. But some are bound to the idiom used in Afrikaans, and without this idiomatic context, the reader cannot understand what I mean. For instance, I cannot translate "En ekke vir jou" into English. The direct translation would be: "And I for you", which makes no sense. (The protagonist actually meant: "And I love you too!")

Dutch readers, however, should be able to follow most of the text. If you did, share it with your friends on Facebook or contact me. It is always lovely to get some feedback.

Vang my, man!

© J. Francois Barnard – 25 Junie 2023

Gisteroggend droom ek dat ek op my ou sesmeter leer staan en ‘n tou vasmaak. Die leer leun teen ‘n lorrie wat soos ‘n Lebowa-Express gepak staan.

sesmeter leerDoer onder hoor ek twee manne wat gesels - die manne wat veronderstel was om die leer vas te hou.

Skielik begin die leer beweeg en ek besef dat ek gaan val. Ek skree iets en dog hulle sou die saak beredder. Maar nee, hulle spring uit die pad dat ek en die leer nie bo-op hulle val nie.

Dis toe dat ek besef die een is my swaer Essie, en die ander Eugen Herbst - ‘n man wat ek veertig jaar gelede op skool gesien het, en twee jaar gelede gehoor dat hy oorlede is. My swaer en die oorledene laat my wraggies nou val.

Maar dis waar die wonderwerk gebeur: Die leer kantel teen ‘n stadige aksie spoed soos in ‘n film en ek maak ‘n elegante sprongetjie om mooi op die grond te land.

‘n Pyn skiet in my linkerbeen op en ek is verbaas dat so ‘n sagte landing my linker-enkel kon beseer. Ek is dadelik wakker en staan met gesteun en kreun op om colchicine en Panamor te gaan kry.

Ek het alweer jig.

Gewoonlik vergeet ek sulke simpel drome, maar die een bly my by. Seker omdat ek vanoggend drieuur weer moes opstaan vir ‘n dosis colchicine en Panamor.

Plaas dat die manne my gevang het!