My native language is Afrikaans. One of the youngest and most modern languages in the world! On May 8, 2025, Afrikaans will celebrate its 100th year of being an officially recognised language in South Africa. But its history dates back to 1671 when the Dutch recorded that the language spoken in their Cape Colony no longer resembled the language they spoke at home.

When I started this blog, I translated many of my articles into English. But some are bound to the idiom used in Afrikaans, and without this idiomatic context, the reader cannot understand what I mean. For instance, I cannot translate "En ekke vir jou" into English. The direct translation would be: "And I for you", which makes no sense. (The protagonist actually meant: "And I love you too!")

Dutch readers, however, should be able to follow most of the text. If you did, share it with your friends on Facebook or contact me. It is always lovely to get some feedback.

Die Oorloper

‘n Staaltjie uit die Tweede Vryheidsoorlog

© J. Francois Barnard – 4 Desember 2022

Die Britse leer het regimente van oral af gekry om saam met hulle te veg. Vanaf Ierland en Skotland, en selfs uit Indië ook. Van die Iere het met gemengde gevoelens die oorlog aangepak. Hulle was self al aan die ontvangkant van die Engelse militêre masjien gewees. George Shaw was 'n Ierse manskap van die Royal North Lancers onder die bevel Lord Methuen. Hulle was The Burning Johnnies genoem omdat hulle elke plaashuis in die Ventersdorp-distrik afgebrand het.

britse soldateShaw en sy peleton het op 'n dag na 'n plaashuis gegaan om dit af te brand. Hulle het die vroue beveel om uit te gaan en toe die gebou aan die brand gesteek. 'n Jong meisie het haar gesig in haar hande verberg en bitterlik gehuil. Shaw het hom geskaam vir die onreg wat hulle aan die mense doen, en onomwonde sy opinie gelug by die peletonbevelvoerder. Hy het die verskrooide-aarde beleid as onredelik, onnodig, en onverantwoordelik beskryf. In 'n woordewisselling het sy offisier vir hom gesê: "If that is how you feel about these Boers, why don't you join them?"

Shaw het gedros, burgerlike klere aangetrek en sy baard laat groei. Hy het na die Boeremagte oorgeloop en as ongewapende drywer by hulle gewerk. Hy het die Boeremeisie wie se ouerhuis hy help afbrand het opgesoek, en wanneer hy nie aan diens was nie, het hy daar gekuier. Haar naam was Martha Engelbrecht, en hulle het as verliefdes soveel tyd as moontlik saam gespandeer.

Die Britte het rantsoene vir die Boeregesinne uitgedeel, en een van die Britse soldate het hierdie burgerlike man by die Engelbrechts geëien as George Shaw. Hulle het hom gevange geneem en hy is voor 'n krygsraad ter dood veroordeel. 'n Offisier het 'n stoel by 'n Boeregesin geleen en Shaw is daarop vasgebind. Die eerste sarsie skote het geval en hom gemis, maar met die tweede is hy is dood. Die Britte het hom ver van die ander soldate begrawe dat so 'n verraaier nie in die teenwoordigheid van ander Britse gevallenes rus nie. Martha Engelbrecht het daar naby weggekruip en die teregstelling gesien.

Sy het gereeld blomme op sy graf gaan sit, maar min mense het geweet wie dit gedoen het. Shaw se boerevriend, Freicher, het by haar begin kuier en hulle is later getroud. Sy het egter nooit opgehou om die graf te versorg nie, en het later 'n peperboom en 'n denneboom daar geplant. Vandag is die bome reusagtig groot, en die Oorloper se graf in die hoek van die Ventersdorpse begraafplaas lê in die koelte. Die Engelse grafte is onversorg en toegegroei onder die onkruid.