My native language is Afrikaans. One of the youngest and most modern languages in the world! On May 8, 2025, Afrikaans will celebrate its 100th year of being an officially recognised language in South Africa. But its history dates back to 1671 when the Dutch recorded that the language spoken in their Cape Colony no longer resembled the language they spoke at home.

When I started this blog, I translated many of my articles into English. But some are bound to the idiom used in Afrikaans, and without this idiomatic context, the reader cannot understand what I mean. For instance, I cannot translate "En ekke vir jou" into English. The direct translation would be: "And I for you", which makes no sense. (The protagonist actually meant: "And I love you too!")

Dutch readers, however, should be able to follow most of the text. If you did, share it with your friends on Facebook or contact me. It is always lovely to get some feedback.

Reünies – Waardevolle Kuiers

© J. Francois Barnard – 4 Februarie 2023

Sedert 2011 was ek bevoorreg om betrokke te kon wees saam met ‘n paar ander manne om reünies te reël vir die 1982 jaargroep van Affies, oftewel Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria. Hierdie geleenthede is vir meeste van die groep geweldig waardevol, en dit het verseker my lewe verryk.

Maar wat maak dit so waardevol? Mense van ander skole het my vertel dat hulle gladnie belangstel om ‘n reünie by te woon nie. Sommige sien geen nut daarin nie, maar ek kan onomwonde sê dat indien jy in 1982 in Affies matriek geskryf het, jy jou reünies en al die ander kuiers kan geniet. Ons groep se reünies het natuurlik oor die jare ontwikkel, en elke reünie was anders as die vorige een.

reunieReünies is nie net amptelike sosiale geleenthede nie. Dit is ook ‘n vinnige kuier terwyl jy op ‘n sakebesoek in ‘n ander stad is. Sosiale media platforms soos WhatsApp stel ons in staat om daagliks in kontak te bly, en om deel te neem volgens jou eie keuse.

Ons WhatsApp groep bevat tans 47 van die oorspronklike 160 oud-Affies van 1982. Almal neem nie aktief deel aan die daaglikse gesprekke nie. Party lag net in die stilte vir al die oor-en-weer stryery en sêgoed. Dit is natuurlik altyd goed om een of twee manne te hê wat strategies ‘n klip in die bos te gooi om te sien wat daar gaan uitspring.

Tydens die COVID-19 inperking het baie van ons talle Vrydagoggende in ‘n ry op Zoom saamgekuier. Party was op kantoor met maskers aan, en ander het van die huis af ingeteken. Terwyl sommige nog Rice Crispies in Suid Afrika geëet het, het Richard met ‘n biefstuk en ‘n glas rooiwyn uit Australië saamgekuier.

Van 1982 tot nou het ons al ses amptelike reünies gehad op 10, 15, 20, 30, 35, en 40 jaar na skool. Maar tussenin was daar al twee Kaapse Kelder Kuiers, twee Harlequin Kuiers, tientalle Eerste-Donderdag-van-die-Maand kuiers, en vier Transvaalse Jaarafsluitings.

My oorlede pa het my die familie se “sosiale vlinder” genoem. Ek moes toe nou maar hierdie mantel dra en ‘n punt maak daarvan om met soveel moontlik van my ou klasmaats te kuier waar ek ook al reis, of wanneer hulle Pretoria toe kom. Dit beteken dat ek vir Stokkies in Port Elizabeth kon opsoek, en saam met Stoney, Jean, Willie, Kokkie en Rian by die Kaapse Waterfront kon kuier. Saam met Ivann het ek in Stellenbosch se Dorpshuis rooiwyn gedrink, en saam met Evan koffie in Pretoria se koffiewinkels.

Die 1982 oud-Affies is nie ‘n perfekte, homogene groep met dieselfde sosiale, ekonomiese, politieke, en godsdienstige stand en oortuigings nie. En dit is juis hierdie verskille wat die dinamiek van die groep so interessant maak en lewendig hou. Daar is ‘n onderlinge respek en liefde vir mekaar wat ons saambind. Dit kyk by die verskille verby en laat elke man toe om net homself te wees.

Ons was al by baie begrafnisse saamgewees om ons maats se afsterwe betreur. Die gevolg is dat ons juis meer moeite doen om tyd saam te spandeer. Ons gades het ook begin vriende raak en dit net so geniet om die samesyn te deel.

Dit het ook al gebeur dat van die manne ‘n werk of besigheid verloor het en ekonomies swaartrek. Twee waarvan ek weet wou nie met die ander deel dat hulle in moeilike omstandighede was nie. Toe hulle siek word was hulle van staatshospitale afhanklik en kon nie die mediese hulp kry wat nodig was nie. Beide het aan hartaanvalle beswyk in hulle 50s. Ek kon nie glo dat van ons maats moes omkom as gevolg van ekonomiese verwaarlosing nie. Ons het ‘n spaarrekening oopgemaak en geld daarin gedeponeer om hulp te verleen waar dit nodig was. Die moeilikste ding is om hulp te vra. Trotse Afrikaanse mans sal mos nie wil erken as dit swaargaan nie - daarom hanteer ‘n handjievol van ons hierdie inligting diskreet en help waar ons kan.

reunie_manneOns het ‘n webblad waar ons nuus, korrespondensie en fotos van ons kuiergeleenthede deel. Die grootste deel van die webblad is privaat en slegs bereikbaar as jy ‘n gebruikernaam en wagwoord het. Dit is ‘n stukkie geskiedenis van ‘n klein groepie Afrikaanse mans wat, myns insiens, ‘n fenominale bydrae gemaak het in die moeilikste tyd van die groter Suid Afrikaanse geskiedenis.

Afrikaanse Hoër Seunskool se leuse is Laat daar Lig wees. Die 1982 oud-Affies het hierdie leuse ernstig opgeneem en laat hulle lig skyn waar hulle ook al gaan. Ek ervaar ootmoed en dankbaarheid om deel te mag wees van hierdie groep.

Ek was al by baie dinamiese mannegroepe betrokke gewees was bly groei soos wat jonger manne bykom. Die hartseer is dat ‘n reünie groep altyd krimp. Dit verhinder ons egter nie om aan te hou om ons lig te laat skyn en mekaar te bemoedig en versterk nie. Die groep kan nie in getalle groei nie, maar dit groei in verhoudinge wat verdiep en manne wat een tot een hulle harte met mekaar deel.

Die groter prentjie is dat Affies nog bestaan en dat daar jaarliks nuwelinge bygevoeg word. Onder andere ook ons eie kinders en kleinkinders. Elke jaar word ‘n nuwe reünie groep gebore en kan hulle help om die vaandel verder uit te dra.

Laat daar Lig wees!