My native language is Afrikaans. One of the youngest and most modern languages in the world! On May 8, 2025, Afrikaans will celebrate its 100th year of being an officially recognised language in South Africa. But its history dates back to 1671 when the Dutch recorded that the language spoken in their Cape Colony no longer resembled the language they spoke at home.

When I started this blog, I translated many of my articles into English. But some are bound to the idiom used in Afrikaans, and without this idiomatic context, the reader cannot understand what I mean. For instance, I cannot translate "En ekke vir jou" into English. The direct translation would be: "And I for you", which makes no sense. (The protagonist actually meant: "And I love you too!")

Dutch readers, however, should be able to follow most of the text. If you did, share it with your friends on Facebook or contact me. It is always lovely to get some feedback.

Stoffie

© J. Francois Barnard – 3 Desember 2022

Almal moes diensplig doen. Lank en maer, kort en vet, slim en dom, ryk en arm – almal. Ook 79487078BA Weerman Stoffie van Tonder. Hy moes na 1 Spesiale Dienste Battaljon in Bloemfontein toe gaan, maar sy ma het hom liewer self na die Leer Hoofkwartier in Pretoria gebring. Sommer twee dae voor die tyd, net om seker te maak.

“My seun is nie geskik om diensplig te doen nie,” sê Mevrou van Tonder stadig en nadruklik. Sy gebruik die woorde wat Dominee vir haar gesê het. “Hy kan nie…, hy kan nie al hierdie goed doen nie.”

Stafsersant Roberts kyk na die ma en seun voor hom. Hy het vanoggend al drie Jehova Getuies ingenooi, en hulle wag in ‘n kamertjie met ‘n wag voor die deur vir die Militêre Polisie om hulle te kom haal.

stoffie“Hoekom sou u sê dat u seun ongeskik is vir diensplig?” vra Roberts en kyk vir Stoffie op en af.

Dis Stoffie wat stadig antwoord: “Ek is nie ongeskik nie. Ek soek my papiertjie.”

Roberts ignoreer hom en kyk na die ma. Sy kyk rond en soek ‘n antwoord.

“Hy kan nie!” sê sy hard en skrik vir haar eie stem. “Hy kan nie,” sê sy weer sag.

“Kom saam,” sê Roberts en wys na die soetkysie langs Stoffie. “Bring jou goed.”

“Ek soek my papiertjie,” sê Stoffie, soen sy ma en volg die stafsersant.

Vir drie dae het Stoffie in ‘n kaserne in Voortrekkerhoogte gebly totdat hulle hom oorgeplaas het na die 1 Militêre Hospitaal se psigiatriese afdeling. ‘n Siviele spesialis het hom ondersoek, en al wat hy kon wysword is dat Stoffie 1.8m lank is, 68kg weeg, tien tone en tien vingers het, en hy soek sy papiertjie.

Die Transvaalse Onderwys Departement het bevestig dat Stoffie skoolgegaan het in Eloff vanaf 1970 tot 1973. Daarna was hy oorgeplaas na ‘n spesiale skool in Springs. Hy was daar tot 1976, en het daarna van die Onderwysradar af verdwyn.

Die Departement van Binnelandse Sake het bevestig dat hy in 1963 in Springs gebore was, en dat die Van Tonder gesin in 1978 almal aansoek gedoen het vir paspoorte toe Stoffie se pa ‘n werk op ‘n myn in Botswana wou kry. Hierdie proses het beteken dat Stoffie ‘n ID-boek gekry het, en sodoende het hy op die Weermagradar verskyn.

Majoor Montgomery by Leer HK kom dadelik tot die punt: “Wat sou jy sê is die man se IK, Dokter?”
“Ons weet nie. Ons kon hom skaars kry om sy naam te skryf, wat nog van ‘n IK toets doen? Al wat hy wil hê is ‘n papiertjie, en waar hy daaraan kom weet nugter alleen. Kom verwyder asseblief die man uit my hospitaal en stuur hom huistoe. Ek sal vir jou ‘n verslag stuur.”

Stoffie en sy soetkysie sit in Majoor Montgomery se kantoor terwyl die majoor ‘n ontslagvorm invul. “Van Tonder, jy kan vandag huistoe gaan. Ons het jou ouers laat weet.”

Stoffie antwoord nie – hy staar net stip na die vorm in die offisier se hand.

“Jy kan huistoe gaan, Van Tonder,” sê hy weer, maar daar is geen reaksie nie.

Die majoor oorhandig die vorm en maak die deur oop. “Neem hierdie man na die parkeerterrein toe. Sy ouers wag vir hom daar,” sê hy vir Stafsersant Roberts.

Stoffie hou die ontslagvorm in beide hande voor hom vas en stap uit sonder om te groet. Staf Roberts gryp die soetkysie en spring agterna om seker te maak hy kan Stoffie veilig by sy ouers uitkry.

“Ma! Pa!,” skree Stoffie toe hy hulle sien.

“Ek hét my papiertjie!”